Rupert Erasmus – Bestuurder Cemader Plaas, Broodkraal Landgoed Piketberg

Ons het die 2015 seisoen met die Irricheck sisteem begin op Broodkraal Landgoed Plaas Cemadar, waar ons Tafeldruiwe produseer. Een van die eerste waarnemings wat die Tegniese Konsultant, Harold Schreiber gemaak het, was dat ons huidige probes nie op die korrekte plekke geplant was nie. Dit sal lei tot onakkurate inligting gedurende besproeiingstyd. Gevolglik het IrriCheck versoek dat ons hulle voorsien van ‘n gedetailleerde grondkartering wat reeds voorheen gedoen is van die plaas Cemarder. Alle probes is toe oor geplaas deur ‘n grondkundige hortoloog van die IrriCheck span volgens grond-tipes (fisiese grond eienskappe), kultivars en besproeiings ontwerp. Probes is gekalibreer en die nodige historiese blok data sowel as stelsel inligting is ingewin om voorbereiding te doen vir die komende seisoen.

Harold het baie moeite gedoen en het aanvanklik weekliks, tot 3 maal op die plaas kom inloer om seker te maak dat alles reg funksioneer. Hy het my ook opleiding gegee sodat ek alles verstaan rondom die sisteem, asook die inligting wat die probes aan ons gee. Dit was vir hom belangrik dat ek vertroud is met die stelsel en net soveel soos hy weet van die grafieke, werking van sagteware en beginsels van skedulering. Ons het die Irricheck sisteem gereeld “opgecheck” deur nogsteeds ons eie profielgate te grou saam met Harold, sodat ons kon sien of dit ooreenstem met wat die rekenaar aan ons gegee het. Die inligting was akkuraat en ons het voortgegaan om te besproei soos die aanbeveling gevra het. Die stelsel is internet gebaseerd, dus is alle skedulerings data en aanbevelings maklik tot my, sowel as oorhoofse bestuur se beskikking, vanaf enige plek op my selfoon of rekenaar. Grafieke is baie gebruikersvriendelik en eenvoudig om te verstaan.

Uit die aard van die saak kan mens nie net op een seisoen staatmaak vir die bevestiging dat die sisteem werk nie, maar na slegs een seisoen in samewerking met Irricheck was daar baie duidelike resultate sigbaar op die plaas. Cemadar het gewoonlik later as die ander eenhede op die landgoed begin pak. Gedurende die 2015 seisoen was hy twee weke vroeër as enige van die ander eenhede, wat ‘n groot ekonomiese impak het. Die ondergrond was deurlopend bestuur en ten spyte van hittegolwe en ander weers omstandighede, goed klam gehou om as buffer te dien. Ons het gedurende die seisoen baie aanpassings gemaak aan die manier wat voorheen besproei was. Daar was sonder twyfel minder besproei as ander jare omdat die water effektief en op die regte tye toegedoen is. Tros ontwikkeling het vinniger plaasgevind en daar was tog ‘n fermer korrel.

Irricheck se diens en hulpvaardigheid gedurende die seisoen was uitstekend. Harold het gereeld met my in verbinding getree sodra hy enige afwykings op die besproeiing waargeneem het. Ek sien met verwagting uit na die volgende seisoen en weet dat daar nog meer resultate sal wees. Ek kan Irricheck met vrymoedigheid aanbeveel.